Karin Hougaard – vrou van vele talente

6 Jul 22 | Profiles

Karin Hougaard is immergroen met ’n talent wat oor verskeie genres strek. Sy het haarself “toestemming” gegee om nie net een “iets” te wees nie. “Ek mag speel, sing, dans, dig, skryf en skilder en as ek regtig sou wou, of in die tuin werk,” het sy in ‘n onderhoud met Saffa Mag gedeel.

Haar kunsvorme, in geheel gesien, maak haar Karin. “Die een vul die ander een aan en maak dit vir my moontlik om myself volledig uit te druk.

Sing is ‘n oerinstrument wat reg uit my lyf kom en is seker die kunsvorm die naaste aan my. Ek benodig nie enigiets eksterns om dit te maak gebeur nie. Net stembande en asem. Dis ’n fisiese aktiwiteit, en daarna as deel van die hele proses, kom emosie en intellek en my hele lyf by,” sê sy. Sy sing immers vandat sy kan onthou en sê haar laaste toer na Suid-Afrika het haar weer opnuut laat besef hoe ’n groot deel die land van haar bestaan is.

Die aktrise-deel is meer uit die musiek gebore as andersom. “Ek is genader om die rol van Jackie Kennedy Onassis in Nederland te vertolk en daarop het ander toneelstukke gevolg, onder meer een hele eenvroustuk in Nederlands! Ek geniet dit baie, maar dis vreesaanjaend op ’n ander vlak as om voor baie mense te sing.”

Haar skrywery is waar sy haarself “ontmoet en haar demone konfronteer. Dit is my reistog na binne. Hier word ek stil, huil ek, baklei ek, skryf ek myself vry van alles wat my pla.”

Die skilderkuns is Karin se “gelukkige plek”. Met dié kunsvorm hou sy haarself besig met iets wat op ’n ander sintuig moet staatmaak – om te kyk, te sien. “Dis ’n ander soort dissipline waar die doek dikteer wat gebeur, ek volg blindelings,” deel sy passievol.

Hoe het jy in 2009 in Amerika beland?

Die geleentheid om ’n jaar lange sabbatsverlof te neem, het vir haar lewensmaat, ‘n kliniese sielkundige en akademikus in die bestuurs-wetenskappe, opgeduik. Karin is saam en na ses maande in Amerika het die opsie gekom om permanent aan te bly. “Die avontuur van woon en werk in ’n ander land was eenvoudig te aanloklik om van die hand te wys. Ek het onmiddellik aansoek vir my groenkaart as “Alien with extraordinary abilities” gedoen, wat ek drie maande later ontvang het.” Die paartjie is nou beide burgers en reeds 14 jaar in die land. “Amerika is goed vir ons.”

Loopbaanhoogtepunte van die afgelope paar jaar

Karin se loopbaan het volstoom voortgegaan met konserte in Suid-Afrika, België en Nederland. Haar album, Alien Sky, wat spesifiek met die tema van vreemdelingskap omgaan, is ook vrygestel. Sy het in haar tuisateljee ‘n luister-CD van Shakespeare se sonnette opgeneem, ‘n enkelsnit-CD van Cohen se Hallelujah asook Droom Ons uitgereik, waarvan laasgenoemde in die grendeltydperk geskryf is.

Hul pragtige huis en haar ateljee het ’n uitsig oor ’n Noord-Carolina-bos met ‘n stroompie wat verbyvloei. Karin sê die omgewing inspireer haar om te skilder. “Ek het aanvanklik tonele van die landskap geskilder en later enorme portretstudies gedoen.

“Ek het ook die digbundel, Wegkaner, die lig laat sien en verskeie van my kortverhale is in Afrikaanstalige bundels soos Skrik op die Lyf, Lyfskap en Amfiteater opgeneem. Sy dink nostalgies terug aan haar 2005-optrede tydens Nekka Nacht saam met Herman van Veen in Antwerpen se Sportpaleis, waar sy voor ‘n gehoor van 17 000 haar eie musiek in Afrikaans vir die Belge gesing het.

Karin het groot lof vir Van Veen wat haar die geleentheid gebied het om haar horisonne as kunstenaar te verbreed: “Toe Herman my in 2000 in Suid-Afrika ‘ontdek’ het, het ek pas my Brel- en Piaf-album Metamorph vrygestel, en nie eintlik geweet wat volgende sou kom nie. Hy het vir my nuwe uitdagings gestel, soos om byvoorbeeld die musiek van Queen akoesties te sing en sommer ook ‘n ‘live’ album daarvan vry te stel.”

Van Veen het haar die platform gebied om in Europese teaters op te tree en erkenning vir haar albums soos Hartstukke en Alien Sky te ontvang. Hy het haar die moed gegee om interdissiplinêr te begin werk en as aktrise haar hand te waag. Die rol van Jackie Kennedy Onassis was 85 minute se intense Engelse teks en musiek (met ‘n Amerikaanse aksent) en sy beskou dit steeds as een van haar meer uitdagende rolle. Maar, sê Karin, die rol van Mata Hari met hoog-Nederlandse teks, was haar moeilikste.

“Omdat dit my derde taal is, was my groot vrees dat ek woorde sou vergeet en ek nie vlot in Hollands sou kon improviseer nie! Genadiglik het dit nooit gebeur nie, daai angs bly my egter by.”

Karin se eerste digbundel Woorde sonder wysies, bestaan uit ‘n versameling liedjies wat nooit wysies gekry het nie en in die boek is daar ook afdrukke van haar kunswerke. Van haar tekste word steeds voorgeskryf as deel van die Afrikaanse gr. 11 poësiekurrikulum.

Kunsstyl is uiteenlopend

Haar aanvanklike kuns was helderkleurig en is deur die Keukenhof en die Pieterwandelpad in Nederland geïnspireer. Sy het egter ’n voorliefde vir monochromatiese werk gehad en in vroeëre jare ook grafiese werk gelewer.

Tydens die Covid-grendeltydperk het Karin portretstudies ontdek en dit spesifiek in houtskool gedoen. “Dit was groter as lewensgroot, die laastes is ongeveer 10 keer groter as lewensgroot!

Die reekstema Rookskerm/Smokescreen het spontaan ontwikkel nadat ek die eerste groot tekening gedoen het van ‘n vrou wat rook. “Hoe meer ek daarmee besig was hoe meer het ek besef die handeling van rook is ‘n soort versluieringstegniek, vir beide die kyker en die roker. Wat skuil agter die rookwolk? Daar is tans ses groot werke, en moontlik met meer in die pyplyn.”

Lewe in ’n vreemde land

Dit was egter nie ’n soomlose proses om “tuis” te voel in hul nuwe land nie en hulle is deur ’n uitdagende tydperk. “Soos die meeste immigrante moes ek leer hoe moeilik dit is om self dinge in en om die huis te takel, self goed heel te maak, te skrop en skaaf soos en waar nodig. Die werf was ‘n mengelmoes van kleure en ongeveer onbegaanbaar toe ons ingetrek het.”

“Die stroompie wat deur ons kleinhoewe loop, het ons eers ontdek nadat ons die ruigtes getem het. Ek het ’n agt by agt voet veewatertrog omskep in ’n ronde swembad wat heerlik verhit word deur gas en dit verskaf ons matelose plesier. Wasbeertjies kyk van die boomtoppe af na ons en ons kyk vanuit die water op na hulle.”

Karin het fisies hard gewerk om hul tuiste te skep en selfs wandelpaadjies met paaltjies aanmekaar getimmer en nie geskroom om die kettingsaag te gryp om bome op te saag en die stompe in kleure te verf nie – net omdat sy kan! Covid en grendeltydperk het ook ’n afdruk op haar lewe gelaat.

“Ek het altyd gesê ek wil nie in Amerika sing nie, dat die VSA my laboratorium is, die plek waar ek kan werk aan idees wat ek dan Suid-Afrika of Nederland toe kan bring.” Maar in 2019 is sy deur TED Talk se organiseerders genader om as gas in Greensboro op te tree. Sy het uitgesien om voor haar vriende in Amerika te sing en dit is vir Maart 2020 geskeduleer. Dit het nooit plaasgevind nie.

“Alles in die VSA het plotseling op 6 Maart 2020 tot stilstand gekom.” Sy kon aanvanklik haarself nie kry om te skryf of te skep nie. “Ek was en is steeds verbysterd deur hoe die hele pandemie wêreldwyd uitspeel en hoe ons almal ’n kollektiewe trauma beleef. Toe die isolasietyd op sy ergste was, het dit my tydens gesprekke met familie en vriende opgeval dat so baie van ons ’n kollektiewe bewussyn vanweë ons universele, gedeelde belewenisse van Covid-19 en die meegaande kwarantyn-ervaring het. Dit was uiteindelik die sneller vir die enkelsnitopname Droom Ons wat ek in September 2020 vrygestel het.”

En hoe het dit jou familie geraak?

Karin se ma het in Desember 80 geword en beide haar susters woon steeds in Suid-Afrika. Die jaarlikse besoeke kon nie plaasvind nie en sy sê die stelling, “ons is net ’n vliegrit vêr”, was nou ondoenbaar.

“My grootste bekommernis was dat my ma gesond sou bly, dat sy nie vereensaam sou raak nie. Sy het haar geselskapsvriend verloor aan Covid en dit was ellendig dat sy hom nie kon groet nie. Dis veral die alleen-bejaardes vir wie my hart gebloei het.”

Toe die eerste vlugte na Suid-Afrika hervat het, was Karin op die vliegtuig huis toe en het sommer vir ses maande hier gebly. “Ek het die land platgereis en weer opnuut besef hoe mooi ons land is.”

Wat mis jy van Suid-Afrika?

“Suid-Afrika is onlosmaaklik deel van my. Inteendeel, ons dink daaraan om terug te keer en daar af te tree. As ek eerlik moet wees, al woon ek tans in Amerika, was ek op ’n sekere vlak nooit weg uit die land nie. Fisies dalk, maar in my hart en gemoed was ek die heeltyd besig met die land, met Afrikaans, die kultuur, met my mense.”

Hulle is nie naïef oor die kompleksiteite en risiko’s om terug te keer na hul geboorteland nie, maar Covid het dit vir hul duidelik gemaak dat ’n mens moet wees waar jy gelukkig is.

“Om in SA te wees maak my hele wese sing, skryf en teken!” Suid-Afrika het ook nie van Karin vergeet nie.

In 2020 is sy by die SA Legende Museum ingelyf vir haar bydrae tot die musiekindustrie. Hiéroor is sy baie dankbaar: “Ek is geëerd dat my 30 plus jare van musiekmaak nie ongesiens en ongehoord verbygegaan het nie. Dat iemand êrens dit onthou en selfs af en toe nog luister.”

Innovation fits young entrepreneur like a glove

Innovation fits young entrepreneur like a glove

While Brandon Hiemstra turned to America to find new markets for SA-grown macadamias, a woman who grew up in rural South Africa is establishing herself in the business world, thanks in part to a USA programme that empowers female entrepreneurs.

read more
Macadamia dream started on a Lowveld farm

Macadamia dream started on a Lowveld farm

Brandon Hiemstra grew up in Mbombela, Mpumalanga, an area abundant with fruits, nuts and vegetables. The city is surrounded with rich agricultural activities and in the past ten years the Lowveld has become one of South Africa’s major hubs for macadamia farming.

read more
No one wears the pants in the McLean-Bailey household

No one wears the pants in the McLean-Bailey household

When an internationally recognised television personality, emcee, speaker, entrepreneur and philanthropist, and a former Manchester United legend and England goalkeeper, soccer commentator, presenter and global circuit speaker team up, one can only expect fireworks!

read more